In Afrikaanse styl
Ventersdorp is nie die eerste naam waaraan jy dink wanneer jy opsoek is na ʼn dekorwinkel nie. Dit is juis om die rede dat die bloedrooi deur van Die Ou Skuur so groot verrassing is wanneer jy in Carmachaelstraat in Ventersdorp afry. Burger Meyer het met die eienaar, Hardus Janse van Rensburg gaan gesels.
Dit is een van die oudste geboue in die dorp en vir amper 40 jaar lank het die skuur leeg gestaan. Totdat die eienaar, Hardus Janse van Rensburg, dit raakgesien het. Hardus het by die SA School of Design binneshuisontwerp studeer en skryf ook ʼn dekor artikel vir die Vrouekeur.
Hy het hierdie ou gebou wat voorheen ʼn motorwerkswinkel was omskep in ʼn dekorwinkel wat lyk of dit eerder in die strate van Kaapstad moet wees. Die rooi deur nooi jou binne na ʼn klein, intieme en ekslusiewe winkel. Iets wat nie algemeeen is tussen al die kommersiële kettingwinkels van vandag nie.
“Hier gaan kliënte ‘n unieke ervaring en persoonlike diens kry,” sê Hardus. Die dekor is ook baie ekslusief omdat baie van die items self deur Die Ou Skuur se klein fabriek in Johannesburg vervaardig word. Die ander items word ingekoop.
Daar is ‘n warm gevoel in Die Ou Skuur en dit voel asof jy soms net hiernatoe sal kom om op die bal-en-klou bank te kom sit en kuier. Die tafel wat voor die bank is staan vol badsout en ‘n verskeidenheid van handeroom. Dan besef jy skielik dit is juis die reuk van die badsout wat jou genooi het om op die bank te kom sit.
Die Ou Skuur se styl is tipies in die Afrikaanse styl. “Ons Afrikaanse mense het nog nooit ons eie styl gehad nie. So vyf tot agt jaar terug het ons dit eers ontdek.” Die styl kan amper as eklektiess beskryf word waar die ou geroeste items met iets nuut gekombineer word. Hierdie styl is ook duidelik sigbaar in die winkel self. Aangesien dit nie moontlik was vir Hardus om gate in die muur te boor nie moes hy ander maniere kry om al die produkte in die winkel uit te stal.
Daarom het hy ou losstaande deure gebruik om die kleure aan uit te stal. Die rou sementvloere en die muur wat plek-plek gepleister is staan in kontras met die blink nuwe kandelare wat uit die dak hang. Dié is tipies die afrikaanse styl.
Planne om Die Ou Skuur uit te brei is daar beslis en daar is selfs sprake van ‘n skoonheidssalon en ʼn koffiewinkel. Die gebou wat langs Die Ou Skuur staan gaan gerestoureer word waar ‘n boetiek sowel as ‘n tuisnywerheid gaan oopmaak. “Die hele winkel gaan oor die vrou en alles wat sy benodig. Sy is die koopkrag.”